Resensie: Sheila Cussons – ‘n Engel deur my kop (1997)
Insig Desember 1997 Louise Viljoen
Sheila Cussons kan met reg een van die grootste religieuse digters in Afrikaans genoem word, ’n stelling wat gestaaf kan word deur te verwys na die omvang sowel as die gehalte van die religieuse gedigte in haar oeuvre. Dit is dus gepas dat sy op haar vyf-en-sewentigste verjaardag op 9 Augustus deur die uitgewer Tafelberg vereer is met die bundel ‘n Engel deur my kop, ’n keuse uit haar religieuse gedigte deur die digter en Amanda Botha. In ’n sekere sin word haar oeuvre deur die seleksieproses ‘gestroop’ om slegs die religieuse dimensie daarvan weer te gee en die verrassende is dat dit wat oorbly na die stropingsproses nog steeds soveel dimensie, nuanse en variasie vertoon.
Vir die leser wat ’n religieuse poësie vol verylde abstraksies en gesanksioneerde uitsprake te wagte is, wag daar ’n verrassing by die kennismaking met hierdie bundel. Om religieus te leef, is volgens die getuienis van hierdie bundel “om hewig lewend te wees”. Enersyds vind hierdie hewige lewe neerslag in gedigte wat van die religieuse belewenis iets baie aards en sintuiglik maak. Die teenwoordigheid van God word byvoorbeeld gemanifesteer in iets so konkreet as ’n druppel sweet (“Eucharistie”), ’n spatsel vet wat uit ’n braaipan spat (“Flits uit ’n braaipan”) of ’n koekie seep (“Die koekie seep”). Hy openbaar hom ook nie noodwendig aan die sintuig wat afwagtend op hom toegespits is nie: “God vindloos vir die teleskoop / gee Hom aan die vinger oor / wat saggies soek oor ’n okkerneut of ’n hunkering se grein” (“Braille”).
Die feit dat die konkrete, sintuiglike ervaring van die religieuse so sterk is in hierdie verse, beteken nie dat die geloof nie ook al worstelende be-dink word nie. Die verse in hierdie bundel ontstaan nie net uit daardie mistieke momente waarop God se teenwoordigheid geopenbaar word deur die beweging van ’n “engel deur my kop” soos in die gedig “Besoeking” nie, maar ook uit die waarin daar geworstel word met die spanning tussen die menslike en die goddelike. Hierdie worstelende dink is trouens vir die digter so kosbaar dat sy dit nie sou wou ontbeer nie: “‘dít / is ’n avontuur wat ek nie sou wou ruil / vir die alwetendheid nie”, skryf sy in “Die wond wat dink”. Verwond deur die sondeval dra die mens dus ’n “skitterende wond” waardeur ook denke of intellektuele inspanning kan lei tot heiligheid.
Die omvang van die religieuse ervaringswêreld vra van die digter groot verstegniese verskeidenheid. Naas die sublieme eenvoud van ’n vers soos “Klein ballade” uit Die swart kombuis vind die leser dus ook in hierdie versameling verse die ingewikkelde presisie van verse soos “Christ of the burnt men” waarin die verwoording van die religieuse insig uitgebreide omskrywing, nougesette punktuasie en aksentuering sowel as ingewikkelde sinstrukture verg. Die geskakeerdheid van hierdie gedigte lê ook daarin dat die religieuse sintuig die digter toegang gee tot ’n wereld anderkant die fisies- aantoonbare bevolk met engele (“Besoeking”) sowel as duiwels (“Dag-end-gedagte”).
Die mistieke digter is byna per definisie gemoeid met taal en die probleem om die onsêbare van die goddelike in taal vas te vang. Om hierdie rede word die onbeskryfbaarheid van God sowel as die nietigheid van die digter in die gedig “Komma” in terme van taalelemente beskryf: “O Onveranderlike, Oneindigende, / Onbeginnende Woord deur wie ’n klein / verrukte vuilerige kommatjie flits”. Ook die delikate posisie van die taal Afrikaans word ingebed binne die religieuse
ervaring. In “Gebed van die loot aan die wynstok” vra die digter dat haar taal “nooit van die liggaam van Afrika” geamputeer sal word nie en bid sy selfs dat God dit moet terugsnoei en tot besinning moet kasty (dit reeds in die bundel Die sagte sprong van 1979).
Wat ’n mens uiteindelik na die lees van hierdie bundel bybly, is die onsentimentaliteit, genuanseerdheid maar veral ook menslikheid van hierdie verse oor die geestelike ervaring. Die Christus wat uit hierdie verse verrys, is geen gesentimentaliseerde ikoon nie maar ’n fors figuur wie se oë “adders en vuur” is (“‘igtings”), sy skouers “gemantel / met ’n verwoede en stormende son” (“Christ of the Burnt Men”). Daar is niks week en lieftallig aan hierdie Christus nie en juis hierom is dit ’n gevaarlike en opwindende “avontuur” om hom te volg. Dit is tot die voordeel van die Afrikaanse poësie dat Cussons se geestelike avontuur ook ’n versavontuur word in die sin dat die religieuse ervaring verwoord word in ’n taal wat by geleentheid self die skittering van openbaring dra.